KKNK NATi Studio
’n Regiekursus vir aspirant- en ervare regisseurs is die nuutste projek wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) van stapel stuur. Dié kursus, wat bekend sal wees as die KKNK | NATi Studio, word aangebied onder die mentorskap van die bekroonde veteraan-regisseur en teaterontwerper Marthinus Basson. Die projek, in vennootskap met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), wil die kunste in Suid-Afrika ’n hupstoot gee te midde van die Covid-19-pandemie. Dit beloof om nuwe geleenthede te ontsluit vir regisseurs wat regstaan vir die dag dat teaters weer oopgestel word vir die publiek, en die land weer die Afrikaanse kunste en kunstefeeste gesellig saam kan vier.
In die kursus, wat oor nege maande strek, sal deelnemers tekste uit ’n wye spektrum genres en tydvakke behandel en ontleed. Basson sal fokus op interpretasie, regie en ontwerp, konsepontwikkeling, vertolkingsuitdagings vir spelers en hoe regisseurs dit te bowe kan kom.
Meer oor KKNK NATi Studio
“Dié regiekursus is ’n wonderlike geleentheid vir teatermakers om kernvaardighede en kritiese denke te slyp,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “En wat ’n voorreg is dit nie dat een van Suid-Afrika se mees ervare regisseurs die leiding neem nie. Basson is nie net een van die land se voorste regisseurs nie, hy is ook ’n gesoute en geliefde dosent en mentor. Dit is ’n besondere en seldsame geleentheid, en dis vir die KKNK ’n voorreg om dit saam met NATi aan te bied.”
Basson sê hy sien daarna uit om dié projek aan te pak. “Dit bring hoop in ’n uitdagende tyd vir die uitvoerende kunste, en bied ’n welkome geleentheid vir teatermakers om op gereelde basis saam te kom, mekaar te inspireer, ’n tiental uitsonderlike tekste in diepte te bestudeer, daaroor te droom en dink, en dit te bevraagteken – en hopelik die kwynende teatervlam weer aan te blaas tot ’n veldbrand.”
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê dié organisasie is in 2020 genoodsaak om as finansierder en vervaardiger van talle teaterproduksies goed te dink oor die foutlyne wat die Covid-19-pandemie in die kunste uitgewys het. “Ons kan nou vir die eerste keer stilstaan en kyk hoe ons dié uitdagings kan pak. Dis goed dat die KKNK in die huidige omstandighede eerder projekte aanpak pleks van produksies, want laasgenoemde is geweldig duur.”
Faasen sê NATi sien op lang termyn baie potensiaal in die KKNK | NATi Studio-projek. “Ons kan nie wag om te sien wat dit oplewer nie. Die plan was uit die staanspoor om regstreeks met kunstenaars saam te werk en geld in hul sakke te kry, kreatiewe energie te ontsluit, en ontwikkeling en mentorskap ’n prioriteit te maak. Veral jong teatermakers het ’n behoefte aan mentorskap. Dis daarom dat ons in dié projek belê.”
Die kursus, wat uit twee formele groepsessies van tussen drie en vier uur lank per maand bestaan, sal Sondagmiddae aanlyn plaasvind. Kontaksessies sal net gebeur as die impak van die Covid-19-pandemie dit toelaat. Die gekose tekste sal in dié groepsessies gelees en bespreek word, waarna Basson take sal uitdeel ter voorbereiding op die daaropvolgende sessie. Met deeglike terugvoer van Basson sal deelnemers se kritiese vermoëns verskerp, hul kreatiwiteit getoets en verdere kritiese denke aangemoedig word. Basson sal as mentor bygestaan word deur bekende, ervare stel-ontwerpers, skrywers, regisseurs en akteurs. ’n Fees van inspirerende talent wag!
Meer oor Marthinus Basson
Marthinus Basson is een van die mees bekroonde en gerespekteerde regisseurs en teater-ontwerpers in Suid-Afrika. Sy loopbaan strek oor 50 jaar. In dié tyd het hy onder meer by die Ruimte-teater in Kaapstad en by KRUIK gewerk. Hy het in verskeie genres gewerk, van drama tot dans, van opvoedkundige teater en komedie tot opera en industriële teater. Van sy ikoniese produksies sluit in: Heiner Müller se Anatomie Titus/Fall of Rome, die Breyten Breytenbach-trilogie (Boklied, Die Toneelstuk en Johnny Cockroach), premières van die meeste van Reza de Wet se werk (onder meer Mis, Drif en Breathing In), Tom Lanoye se Mamma Medea, Bloed en Rose en Koningin Lear, Peter Verhelst se Aars! en Romeo en Julia, Shakespeare se Macbeth en Antony and Cleopatra, Puccini se Tosca, Verdi se Rigoletto, Kander & Ebb se Cabaret!, Marlene van Niekerk se Die kortstondige raklewe van Anastasia W en Pieter Fourie se Ek, Anna van Wyk. Basson was twee dekades lank verbonde aan die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch as dosent in regie en ontwerp.