Sewe vriende, Model C-born frees, gaan stap vir oulaas saam in die Sederberge voordat hul lewens verskillende rigtings inslaan. Geen selfoon-ontvangs, geen wi-fi … en dan ’n oer-woedende storm wat hulle vaskeer in die grot waar hulle skuil.
Om ’n groot klip, soos ’n altaar, in ’n gedeelte van die grot wat weens die storm oopgeval het, doen die pêlle wat hul generasie doen as hulle in ’n krisis is: Hulle hou partytjie.
Mettertyd vervaag die musiek, die hip-hop-tromritme raak ’n hartklop en die boesmantekeninge op die altaarklip gaan oop vir die een wat ’n geleier word vir al die stories: Ook dié van die jongste dogter van een van die voorste struggle families in die land en haar geliefde, ʼn sewende generasie boerseun.
Hierdie sewe jongmense probeer hulle plek vind in die land, teen die agtergrond van hulle geskiedenis, hulle drome, maar ook hulle woede.
Twee bekroonde teatermakers, Hennie van Greunen en Nico Scheepers, span saam in ’n produksie wat in woorde, sang, beweging en ongelooflike visuele tonele die storie aan ons vertel.