Toutjies & Ferreira wen 4 Fiëstas
Toutjies & Ferreira, ’n dramaproduksie oor ouers met “ ’n gat in die hart” omdat hul kinders oorsee woon, het vier kykNET Fiëstas gewen. Die Fiëstas, wat prestasie op die land se ses kunstefeeste vier, is Donderdagaand op ’n glansryke geleentheid in die Kunstekaap in Kaapstad oorhandig. 

Toutjies & Ferreira, ’n dramaproduksie oor ouers met “ ’n gat in die hart” omdat hul kinders oorsee woon, het vier kykNET Fiëstas gewen. Die Fiëstas, wat prestasie op die land se ses kunstefeeste vier, is Donderdagaand op ’n glansryke geleentheid in die Kunstekaap in Kaapstad oorhandig. 

Die seremoniemeester was Bennie Fourie en hy is onder meer deur Schalk Bezuidenhout, Kay Karriem en Jill Levenberg bygestaan. 

Toutjies & Ferreira, met Frank Opperman en Joanie Combrink in die hoofrolle, is as die beste aanbieding op ál die kunstefeeste aangewys. Combrink is as beste aktrise vereer, Saartjie Botha is vir haar teks bekroon en die regisseurs Nicole Holm en Wolf Britz vir hul regie. Die stuk speel af agter die skerms net voordat ’n vertoning gaan begin. Dit gee deur die oë van tegnici en akteurs ’n sonderlinge blik op die chaotiese, maar ook snaakse uur voordat die gordyn lig. Die produksie skop af as ’n komedie, maar word dan baie roerend met ’n fokus op ouers wie se kinders geëmigreer het.

Op die galaaand is die eertydse balletdanser en dansakademikus Eduard Greyling vir sy lewenswerk vereer, asook die veteraan-akteurs John Kani en Sandra Prinsloo.

Die akteurs in Philip Rademeyer se tweemandrama Klippe wat val, het twee Fiëstas losgeslaan. 

Wilhelm van der Walt en Dean John Smith is onderskeidelik as beste akteur en byspeler aangewys. Die stuk handel oor twee seuns – die een wit die ander bruin – wat saam grootgeword het op ’n plaas. Die een verlaat die plaas en keer baie later terug om die plaas vervalle te vind met sy eertydse vriend wat in ’n hondehok woon.

Lee-Ann van Rooi is vereer as beste vroulike byspeler vir haar spel in Kinnes, wat afspeel op die Kaapse Vlakte.

Die narreproduksie Babbelagtig, waarin geen woord geuiter word nie, het aan die maltrap-ensemble ’n Fiësta vir beste ensemble besorg. 

Antoinette Kellermann het vir haar aangrypende vertolking van ’n bejaarde, sterwende vrou die prys vir vertolking in ’n solovertoning gewen vir Hierdie lewe. Dit is op Karel Schoeman se gelyknamige roman gegrond. 

David Kramer se Platteland en Amanda Strydom se Stadig oor die klippers is onderskeidelik as beste musiekgedrewe produksie in ’n teater en op ’n podium aangewys. Strydom vier vanjaar boonop vier dekades in die bedryf. 

Die gaste en kykers is ook vermaak met optredes deur Jo Black, Craig Lucas, Paxton, die Cape Dance Company, die Kaapstadse jeugorkes onder leiding van Chad Hendricks en die koor van die Universiteit van Wes-Kaapland.

Deel hierdie artikel
Deel op Facebook
Stuur 'n twiet
Pin die foto
WhatsApp
Stuur per e-pos

© 2025 NATi • Alle regte voorbehou.