“’n Kort opsomming van die NATi-ondersteunde produksies wat vanjaar op die Vrystaat Kunstefees te sien is!
Swerfgoed
Dié toneelstuk oor ’n aktuele kwessie het ’n gedugte span – die akteurs Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, die jong bekroonde Richard September en Andrew Laubscher, asook Tinarie van Wyk Loots in die regiestoel. Die stuk gaan oor water en grond en wie dit in hierdie land mag besit. Dit is tekenend van die tyd waarin ons leef en toon ’n postapokaliptiese Suid-Afrika waar water die mens se kosbaarste besitting geword het. Enersyds is dit skreeusnaaks, andersyds sny dit tot op die been. Swerfgoed sal almal ’n bietjie anders oor die gronddebat en waterskaarste laat dink, meen Cornelia Faasen van NATi.
Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran
Hierdie wonderskone verhaal gaan oor ’n verworpe jong seun se verhouding met ’n ouer Moslem-man wat hom onder sy vlerk neem. Hulle reis deur Europa terwyl Ibrahim hom die belangrikste lesse oor die lewe leer. In ’n tyd wat gekenmerk word deur vooroordele jeens rasse en gelowe is dit noodsaaklike kykstof. Neem snesies saam. Dawid Minnaar is die akteur, Philip Rademeyer die regisseur, Éric-Emmanuel Schmitt is die skrywer en Naòmi Morgan, Frans-professor aan die Universiteit van die Vrystaat, het dit in Afrikaans vertaal. Schmitt is ook die skrywer van Oskar en die pienk tannie.
Uit die bloute
Dié produksie met twee unieke verhale deur Eugène Marais en lewendige musiek daarby was in 1996 ’n treffer en herleef nou ter wille van ’n tikkie nostalgie. In die een storie, “Salas Gomez”, sit ’n jong boer maande lank vasgekeer op ’n rotslys. Paul du Toit (onlangs in die TV-reeks Waterfront) beeld sy pyn, depressie, angs en woede uit. Die tweede verhaal, “Die lied van die reën”, gaan oor water, mag en verlossing. Jenna Dunster speel hierin. Cintaine Schutte in die solostuk Half leeg. Die musikante is Lizanne Helberg, Leon Ecroignard, Jahn Beukes en Pyjama Shark. Henriëtta Gryffenberg is die regisseur.
Half leeg
Dié stuk met Cintaine Schutte is vir ’n jonger gehoor en gaan oor ’n jong meisie wat ná ’n henneparty in haar whiskey sit en staar terwyl sy een oog op die deur hou. Sy bied ’n vlymskerp blik op mans, vroue, eensaamheid, vriendskap en goeie musiek. Tara Notcutt, gerekende regisseur van Kaapstad, hou die leisels en Amy Jephta, ook van Kaapstad, is die skrywer. Oor GodgOdgoD en Alpha sê Faasen dié eksperimentele werk sal dalk nie almal se smaak val nie, maar dit verryk gehore en kunstenaars en keer dat die bedryf stagneer.
GodgOdgoD
Wolf Britz en Ilana Cilliers lei die akteurs Charlton George, Tiisetso Mashifane en Thembekile Komani in die ontwikkeling van die stuk wat die skepping en skeppingsproses ondersoek en die uitwerking wat dit op die omgewing het. Britz en Cilliers tree ook hierin op. Die stuk verskyn in die feesgids onder die afdeling Grensloos.
Alpha
Waarvoor sal die millenniërs onthou wil word, diegene wat in die 21ste eeu gebore is en waarskynlik die Alfa-geslag genoem sal word? Erwin Maas en Stef de Paepe van Nederland hou die leisels in dié eksperimentele stuk met Gerben Kamper, Manzikazi Scota, Jane Mpholo, John Paka, Saree van Coppenhagen en Crystal Donna Roberts. Alpha kan in die feesgids onder Ouderdom onbeperk gevind word.
* Bespreek by Computicket vir alle produksies op die Vrystaat Kunstefees.”