Milly, ’n bloemis, veg haar hele lewe lank teen die verandering van natuurskoon in ’n spesiale gebied van biodiversiteit wat ook haar geboortegrond is, naamlik die Agulhasvlakte. Amy kom met wêreldwysheid van die stad, waar sy probeer het om iets van haarself te maak, anders as haar ouer suster.
Sy het gaan studeer, maar het bekendheid op sosiale media verwerf waar sy ’n groot aantal volgelinge het. In haar stryd vir ’n beter lewe het sy haarself totaal en al verloor. Soveel so, dat sy met ’n geestesversteuring gediagnoseer is. Hierdie verhaal van twee susters gaan nie net oor hul identiteit in verhouding tot die grond, familie en die wêreld nie, dit ondersoek ook op ’n menslike en eerlike manier twee groot kwessies wat jongmense vandag in die gesig staar.