“…Opperman se spel beïndruk die meeste. Die toonaard waarin hy praat, al die bewegings. Alles so perfek uitgewerk. Dat jy sal lag, is gewis, maar dit bevat ’n ongelooflike erns. Want terwyl jy Opperman sy fyn vakmanskap perfek sien uitvoer, wonder jy oor die lewe. En die pragtige slotsin laat jou verder dink. So gaan kyk eerder self. Dié stuk verdien dit.” – AJ Opperman, Netwerk24
Ek wens, ek wens is ’n fabelagtige verhaal oor Seb, ’n lykbesorger wat ’n grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan lei. Sy lewe is een van roetine en kleinighede en hy sien lankal nie meer die wonder en grootsheid van die lewe raak nie. Tot hy eendag ’n engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet. Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop Seb om te vra: As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens?
Zirk van den Berg se sprokie vir grootmense is bekroon met die WA Hofmeyr- sowel as die kykNET-Rapport-prys. Ek wens, ek wens is as die Aardklop Nasionale Kunstefees 2021 se beste produksie bekroon, en Frank Opperman word aangewys as beste akteur vir sy kragtoer in hierdie eenmanvertoning.