Die kitaar- en snaarinstrumente het die toets van die eeue geslaag en vandag vind jy honderde verskillende snaarinstrumente regoor die wêreld. Die teelepeltjie is seker een van die algemeenste huishoudelike gereedskapstukke in die wêreld. Wat gebeur wanneer die snaarinstrument en die teelepel een word? Lepeltjie vol snare vier die oorsprong van die snaarinstrument in die Suid-Afrikaanse tradisionele folkmusiek – met die Boesman-boog, die banjo, die viool, die akoestiese kitaar en natuurlik die teelepel wat ’n sentrale plek inneem. Hannes Coetzee se besonderse styl van kitaarspeel met ’n teelepeltjie in sy mond word na ’n nuwe generasie oorgedra. Coetzee het die verbeelding van Suid-Afrikaners en die Amerikaners aangegryp met sy eiesoortige, unieke manier van kitaarspel. Met sy toer na Amerika het hy sy vaardighede ten toon gestel, met talle Amerikaanse kitaarspelers wat sy tegniek probeer het, maar sonder sukses. Frazer Barry het as kind ervaar hoe sy oupa en ooms op verskillende maniere die folkmusiek en tradisionele musiek lewend gehou het deur hul eie instrumente te maak en dan te speel. Hy is deur Hannes Coetzee touwys gemaak om die kitaar met die lepel te bespeel. Frazer het egter besluit om die lepel saam met die banjo te gebruik en om sodoende sy eie styl te ontwikkel.