Op hierie dag, deel van die die KKNK Karoo Kaarte-projek, is ’n diep en treffende teaterreis wat as kringteater aangebied word met ’n uiteenlopende rolverdeling van beide professionele en opkomende Oudtshoorn-akteurs, -sangers en -musikante.
Geïnspireer deur Dylan Thomas se Under Milk Wood, stel Op hierie dag deur storievertelling, musiek, sang, poësie en fisieke teater die verskeidenheid van Oudtshoorn-inwoners, beide werklik en verbeel (soms herverbeel), bekend en ons sien hoe hul dae oor parallelle tydraamwerke verloop. In hul reise van dagbreek tot skemer, kruis hul paaie en bots werklike figure en historiese persoonlikhede, kaarte, indrukke, drome, nagmerries en herinneringe, die verlede en die hede in die strate van dié Klein Karoo-dorp.
Verwag ’n begeleide toer deur Oudtshoorn soos nog nooit vantevore nie! Ná elke opvoering is daar ’n halfuur-gesprek met die rolverdeling, die kreatiewe span en die gehoor. Besoek gerus die Karoo Kaarte-kunsuitstallings, wat verder uitbrei op die karakters en kontekste wat in dié toneelstuk bekend gestel word.