Spertyd is tydens grendeltyd onder die Aardklop-vaandel ontwikkel. Ná slegs hierdie een speelvak is Prinsloo vir ’n Fiësta-prys as beste aktrise benoem. Spertyd is ’n reis deur die kontinent van ouderdom: “My lewe is nou ’n doodloopstraat. My dogter sê: ‘Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie.
Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers.’ Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie.” Só eerlik en onsentimenteel skryf die bekroonde Elsa Joubert oor die oudwordproses. Prinsloo volg haar vorige, kragtige eenvrouvertonings (Kamphoer, Oskar en die pienk tannie en Die naaimasjien) op met hierdie werk wat inspireer en ontroer, maar ook vertroos.
Joubert is op 14 Junie 2020 midde-in die Covid-19-pandemie oorlede. Kort voor haar afsterwe het sy die teksverwerking gelees en was sy opgewonde oor Prinsloo se vertolking van haar lewensverhaal. Die karakter kyk op 95-jarige ouderdom terug op haar vol lewe; van haar kinderjare en haar huwelik tot waar sy as weduwee in ’n aftreeoord woon. Dit bied ’n helder insig in hierdie merkwaardige skrywer se lewensbeskouing en nooi jou uit om diep na te dink oor jou bestaan.