Hierdie is die aangrypende liefdesverhaal van Ellida wat met dr Wangel getroud is. Hy het twee dogters wat nie veel jonger as sy self is nie. Ellida bewaar ʼn geheim – sy het eens deur die see ewige trou aan ʼn matroos beloof en kan die vreemdeling nie vergeet nie. Dan daag hy op om haar soos hulle mekaar belowe het, op te eis. Wangel besef sy magteloosheid en gee haar die vryheid om te kies. Vryheid waaraan verskeie betekenisse geheg word. Deur haar spel sien die teaterganger die onderdrukte emosies, die verwarde gedagtes, die vrese wat onder die oppervlak skuil, maar ook die hoop op versoening. Wat dan ontvou, is ʼn pragtige liefdesverhaal vol intriges. Dit word kundig vervleg met die liefdesverhale van die twee dogters. Voeg daarby die heldin Ellida se obsessie met die see en die tafel is gedek vir ʼn kragtoer wat jou sal meevoer tot die einde.
In hierdie psigologiese en simboliese drama plaas die dramaturg die kyker volslae in die komplekse verhoudings van sy karakters: vol passie, maar ook vol menslike humor.
Wilhelm Disbergen sorg vir ʼn visuele skouspel van lewende, bewegende drie-dimensionele projeksies van geheue, landskap, ruimtes en die vloei van die see.
Henrik Ibsen, die Noorse teater-reus, word as die vader van die moderne teaterkuns beskou. Met ʼn swiep van woorde laat hy die gehore die waarheid daaragter sien. Uitstekende akteurs, interessante karakters, ʼn pragtige storielyn. Teater op sy beste!