’n Nuwe mis vir die aarde waarvan Antjie Krog die teks geskryf het met toonsetting deur die plaaslike komponis Antoni Schonken word op die US Woordfees op Stellenbosch opgevoer. Marina Griebenow het gaan luister.
Daar was ’n tyd toe minstens een groot klassieke werk jaarliks by die Afrikaanse kunstefeeste aangebied is, veral by die KKNK, en dis altyd goed ontvang. Dit het egter al hoe minder gebeur namate die aanbod van klassieke musiek en die geld daarvoor gekrimp het, en veral nadat ’n afsonderlike fees vir klassieke musiek ontstaan het.
Ook die US Woordfees se aanbod was aanvanklik klein, maar soos die fees gegroei het, het die program van klassieke musiek ook eksponensieel toegeneem. Hoe dan anders met ’n musiekdepartement op die dorp?
Vanjaar bars die Woordfeesprogram behoorlik uit sy nate. Met die geldelike steun van NATi (Nasionale Afrikaanse Toneelinisiatief) en die dryfkrag van Cornelia Faasen, met Mabet van Wyk as rasieleier, is besluit om in samewerking met Kaapstad Opera twee bestaande liturgiese volksmisse aan te bied, die Missa Luba en die Misa Criolla, asook ’n splinternuwe Suid-Afrikaanse opdragwerk.
Antjie Krog is genader om die teks te skryf vir ’n nuwe mis en die jong plaaslike komponis Antoni Schonken is gevra om die toonsetting te doen.

Marthinus Basson met sy onbegrensde verbeelding en diepgaande kennis van operaregie is die regisseur. Aan sy onverstoorde regterkant staan Pieter Bezuidenhout, bekende koordirigent van Pretoria, wat soos ’n vars bries ingewaai en met ’n ferm dog vriendelike hand die hele affêre musikaal bymekaar gehou het. Daarin is hy knap bygestaan deur die orkesleier Erik Dippenaar.
Laatmiddag op die eerste dag van die 2019 Woordfees sit die Adam Small-ouditorium stampvol in afwagting op die eerste uitvoering van Die nuwe verbond – ’n Misorde vir die universum.
Antjie Krog het by die Woordfeesprogram se bekendstelling die “Credo” voorgelees en reeds daar het jy agtergekom die betekenis van Die nuwe verbond se naam is letterlik – dit is so nuut dat dit nie eens ’n geestelike mis is nie, maar ’n sekulêre een wat toegespits is op die aarde “wat ly onder homo sapiens, besoedel, vernietig en vermoor word”.

Die benamings van die tradisionele mis se komponente soos die Kyrie (Helie Eleison), Credo, Gloria, Sanctus, Dies Irae, Agnus Dei en Lux Aeterna word behou, maar die teks is splinternuut en beeldskoon.
Die Kaapstadse Operakoor het hulself al bewys as een van die beste operakore ter wêreld. Hoewel nie die volle koor deelneem aan die Missa Luba, Misa Criolla en Die nuwe verbond nie, maak hulle nietemin ’n groot klank waar nodig, maar bewys hulself ook as hoogs vaardig wanneer dit kom by die klankeffekte en spraakgedeeltes wat Schonken ingesluit het. Dat hulle enigsins die tawwe woorde van onder meer die “Gloria” baasgeraak het, behoort aan hul elkeen ’n medalje te besorg.
Brittany Smith, Ané Pretorius, Ernestine Stuurman, Makudupanyane Senaoana, Monwabisi Lindi, Siphesihle Mdena, Garth Delport en Christine Bam kwyt hulle uitstekend van hul taak met hul onderskeie solo’s. Veral Bam het haarself onderskei met sterk diksie en die knap hantering van die omvang van haar solo.
Amanda Strydom, ook die solis in die Misa Criolla, vertolk die rol van die priester wat tussendeur fragmente teks voordra. Sowel die spirituele as die sekulêre fragmente behartig Strydom met die nodige vuur en gravitas. ’n Mens vermoed sy het in die vervloeking van die berg in die “Agnus Dei” ’n ekstra “jou bliksem” ingewerk, maar dit het geensins afbreuk gedoen nie. Trouens, skielik was almal se aandag weer presies waar dit moes wees.
In die Missa Luba en die Misa Criolla, asook in die Die nuwe verbond het die insluiting van kontemporêre verwysings deur ’n aantal hoogs bekwame dansers onder leiding van die choreograwe Sifiso Kweyama en Ina Wichterich ’n belangrike ekstra laag betekenis bygevoeg. Basson was nog altyd ’n voorstander van sterk visuele beelde en die dansers speel ’n belangrike rol in sy visie vir die Mi(SA), so ook die stel- en kostuumontwerp deur Michael Mitchell en die atmosferiese beligtingsontwerp deur Chris Pienaar.
My wens vir Die nuwe verbond – ’n Misorde vir die universum is dat dit uitgevoer sal word die dag as Antjie Krog na die podium stap om die Nobelprys vir Letterkunde te ontvang. Dié teks is ’n hoogtepunt in ’n oeuvre bestaande uit hoogtepunte.
*Die Mi(SA) word Saterdag om 14:30 en Sondag om 19:30 uitgevoer. Dit word ook op die Suidoosterfees in April in Kaapstad uitgevoer.
VIA NETWERK24