Hart en menslikheid van ‘Die gangsters’ tref

Die gangsters is vanjaar as die beste produksie op die US Woordfees aangewys. Rafiek Mammon het dit op die Suidoosterfees beleef en is diep geraak daardeur.

Daar word beweer dat goeie drama begin met ’n goeie teks. In die geval van Die gangsters is dit inderdaad Benoni Dehaeck se grotendeels rymende koeplet stem wat sterk deur die hele stuk weergalm met interessante bespiegeling oor waaroor die lewe eintlik gaan – en meer tot die punt – wie se lewe maak meer saak, en hoe en wie besluit daaroor? 

En, al is die teks se neiging om van ’n preekstoel of seepkis gebruik te maak, word daar op ’n slim manier met die jin en jang, die reg en verkeerd, en al die skakerings van grys tussenin, ingekleur. Maar, net soos ’n mens nie ’n leerbeursie uit ’n varkoor kan maak nie, staan ’n teks nie op sy eie om ’n meesterlike teaterstuk op die planke te bring nie. Hier is waar die formidabele Marthinus Basson en die sterk geselskap inkom om ’n stuk te skep wat relevante en belangrike politieke en sosiale vraagstukke oopvlek en letterlik die gehoor uitdaag om dit – asook waar hulle op die spektrum inpas – te bevraagteken. 

Een van die redes waarom dit werk, is dat Die gangsters ernstige werk is, met ernstige onderwerpe, maar dit neem nie homself so ernstig op nie. En diegene wat dink sepie akteurs is net dit, gaan kyk bietjie Die gangsters – waar daar ’n aangename verrassing op jou wag.

Die hoofstorielyn handel oor vier voorstanders van die ou “reënboognasie”-konsep – die swart Biskop, die wit Polisiekommissaris, die fanatiese Moslem en die bruin Minister van Welsyn wat byeenkom vir ’n gedenkdiens van Joe Jesus, ’n gangster-heilige wat vermoor is. Oënskynlik is dit ’n maklike konsep waarmee gewerk word – een wat amper soos eksperimentele teater voel op plekke en nie noodwendig ’n nuwe konsep van ’n toneelstuk binne ’n toneelstuk nie. Maar, daar is niks eksperimenteel oor Die gangsters nie. Alles is haarfyn beplan – van die kristalglase met vloeistof tot die weerklanke van die koor se refreine. En ja, daar is al baie geskryf en opgevoer oor die stryd tussen reg en verkeerd, maar daar is nie baie toneelstukke wat dit aanpak met soveel menslikheid en hart nie.

Basson het ’n goeie span spelers bymekaar gebring – jong akteurs wat met ervare name soos June van Merch, Basil Appollis en Stian Bam hul stemme met selfvertroue dik maak. Dean John Smith, Vashti Prins, Jurgen McEwan en Dean Olivier lewer uitmuntende werk in dié uitdagende, dog vermaaklike stuk. Een van die redes waarom dit werk, is dat Die gangsters ernstige werk is, met ernstige onderwerpe, maar dit neem nie homself so ernstig op nie. En diegene wat dink sepie akteurs is net dit, gaan kyk bietjie Die gangsters – waar daar ’n aangename verrassing op jou wag.

MET: June van Merch, Basil Appollis, Stian Bam, Keanen Engel, Dean John Smith, Jurgen McEwan, Jodecee Solomons, Melanie Scholtz, Vashti Prins, Dean Olivier, Destiney Reed, Adeline Lamohr en Arlin Bantam.

Via Netwerk24

Deel hierdie artikel
Deel op Facebook
Stuur 'n twiet
Pin die foto
WhatsApp
Stuur per e-pos

© 2023 NATi • Alle regte voorbehou.