Tribuo-kunsteberaad – Kunstenaars moet terugveg met hul kreatiwiteit
Kunstenaars se mag lê in hul kreatiwiteit, ’n mag wat die vyand – die regering van die afgelope 30 jaar – kan uitdaag. Werkgeleenthede lê in die smee van vennootskappe en die groot bedreiging van kunsmatige intelligensie kan getroef word, omdat kunstenaars die vaardighede het om betekenis te gee aan ’n lewe in ’n al hoe vreemder wêreld.

Dit is van die indrukke versamel in die eerste gesprekke op die Tribuo-kunsteberaad by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie (Stias) op Stellenbosch. Nagenoeg 80 rolspelers in die kunste vergade r die naweek om te beraadslaag oor die stand van die kunste.

Kunsmatige intelligensie is die grootste uitdaging wat die mensdom in die gesig staar. En kunstenaars kan sin maak van hierdie nuwe wêreld op ’n manier waarop geen ander stelsel, groepering of beweging kan nie. 

Tribuo-kunsteberaad - Kunstenaars moet terugveg met hul kreatiwiteit NATi
Cornelia Faasen het oor kunsmatige intelligensie gepraat op die Tribuo-kunsteberaad op Stellenbosch. Foto: Nardus Engelbrecht

Aan die woord is Cornelia Faasen van Nati (Nasionale Afrikaanse Toneelinisiatief).

“As daar een ding is waarvan ons seker kan wees, is dit dat die wêreld waarin ons die volgende paar jaar gaan leef, werk en skep, aansienlik anders gaan lyk as die wêreld waarin ons grootgeword het, en die wêreld waarin ons vandag leef.”

Sy glo kunstenaars het die vermoë om dit te bied aan die wêreld wat nodig is in dié tyd: ’n diep begrip en konseptuele interpretasie van die snel veranderde werklikheid.

“Die harde en werklike waarheid van die kunsmatige-intelligensie-stelsels is dat selfs die mense wat dit geskep het, reeds gebieg het dat hulle beheer verloor het daaroor en veral wat betref hoe dit beheer en gereguleer moet word.

“Eenvoudig gestel: Die wêreld word beheer deur ’n diep foutiewe stelsel, met net een fokus en doelwit: om geld te maak en die wêreld van al sy bronne te stroop, sodat net hulle oor is en die 99% van ons wat nie saak maak nie, verdwyn in die vergetelheid.” 

Sy glo die wêreld waar alles nou ’n kommoditeit is, is die wêreld wat juis verwerp moet word.

Faasen glo kunstenaars skep dit wat in die nuwe wêreld nodig is soos “die idee, die kreatiewe proses, die denke, die oorspronklike kunswerk, die jong mens wat ’n nuwe styl bring, die skrywer wat die ware potensiaal van ’n narratief ontbloot, die lied wat so met musiek gekombineer word dat dit jou laat voel”. 

Tribuo-kunsteberaad - Kunstenaars moet terugveg met hul kreatiwiteit NATi
Die choreograaf en danser Gregory Maqoma het op die kunsteberaad gepraat oor die kollektiewe mag van kunstenaars en kreatiwiteit as wapen. Foto: Nardus Engelbrecht

Geen kapitalis kan daarop beslag lê deur ’n rekenaarstelsel “wat dit opbring wat ons reeds geskep het en dit nou aan ons terugverkoop as kuns” nie, vervolg sy. 

Sy benadruk dat die kunstenaar se waarde nie lê in dit wat verkoop kan word nie. “Ons waarde lê in dit wat nooit gekommodifiseer kan word nie – die smee van bande tussen mense, konneksie, samekoms, emosie, konteks, broosheid en siel.” 

Tog maak sekere ekonomiese beginsels sin – goeie bestuur en deur seker te maak dat gehore dit kry wat hulle geniet, waardeer en bereid is om voor te betaal. “Behoorlike begrotings, die aanwend van private borgskappe in die plek van ’n regering wat die kunste ondersteun. Ons kan goed sake doen terwyl ons ’n stelsel verwerp wat meen ons is waardeloos.” 

Teater is lewenskragtig, meen Lara Foot, uitvoerende hoof van die Baxter-teater in Kaapstad. Dit is danksy die kunstefeeste en die onafhanklike teaters wat produksies ondersteun. Die Baxter kon sewe suksesvolle produksies ná Covid aanbied danksy die toewyding, samewerking en harde werk van die feeste en onafhanklike teaters. Sy het onder meer verwys na die sukses van Die moeder saam met die Toyota US Woordfees en Firefly wat saam met die Woordfees aangebied is en nou saam met die Pieter Toerien-teater toer, asook Life & Times of Michael K wat saam met die Düsseldorfer Schauspielhaus aangebied is.

“Teater verken die diepte van die menslike siel, verbeter en verdiep ons gesprekke met mekaar, dit gee lewe en verlig ons lewe.” 

Daar is egter te min teaters om ons kunstenaar te huisves, sê sy. “Die meeste staatsteaters word swak bestuur, daar is nie visie of toewyding nie en daar is ’n groot vermorsing van geld.” Sy glo dat die instellings beheer word deur mense wat nie die teaterwese ken nie. “Ek bestuur ’n teater, want ek weet alles van teater, my voorgangers het ook als van die teater geweet. Die verkeerde mense werk in ons staatsinstellings en word ook in die Nasionale Kunsteraad (NAC) aangestel; dit is mense wat nie ’n passie vir die teater het nie. Hulle is nie slegte mense nie, maar dit beteken dat 99 persent van ons geld gaan na teaters wat nie tuistes vir kunstenaars bied nie.”

Sy meen ’n ware tuiste vir ’n kunstenaar is ’n plek “waar hulle kreatief kan wees, kan speel, kan misluk en nie bang hoef te wees om te misluk nie. Dit is plekke waar gehore saamkom vanuit alle gemeenskappe, rasse, kulture, tale – dit is ’n plek van waarheid.”

Die bedryf het ook ’n groot tekort aan tegnici, verhoogbestuurders, kostuum-, stel- en beligtingsontwerpers. “Ons produksiewaardes van ons teaterstukke is in die gedrang. Dié vaardighede moet by staatsinstellings geleer word.” 

Foot het ook haar kommer oor gehoorontwikkeling uitgespreek en meen teaters is deesdae nie plekke waar jy as teaterganger iets kan eet of drink nie, waar jy veilig kan voel nie. Sy het ook oor die verlies van die Fugard-teater en die Alexander Bar-teater gepraat en genoem dat die Theatre Arts Admin se toekoms ook in die weegskaal is. Sy het haar kommer oor kunstenaars se gemoedstoestand uitgespreek en verwys na die selfdood van ’n kunstenaar nadat hy ’n noodkreet op Faceboek geplaas het.

Sy glo die weg vorentoe is die bou van “vennootskappe met kunstefeeste en onafhanklike teaters”. 

Die choreograaf en danser Gregory Maqoma het in die derde toespraak van die oggend die kunstetoneel as rhythm and blues beskryf – jy kan nie die ritme geniet en die blues ignoreer nie. 

Waar Maqoma se Vuyani-dansteater, ’n voltydse dansgemeenskap van Soweto, die pandemie oorleef het danksy bronne wat opgebou is uit oorsese optredes, is dit nou aan die kwyn. 

“Internasionaal beleef geselskappe, kunstefeeste en teaters ook ekonomiese druk. Ons word gevra om ons tariewe aan te pas, met minder dansers te reis en ons begrotings te sny. 

“Plaaslik neem ons uitdagings toe. Ons ekonomiese vooruitsigte lyk sleg, met ’n moontlike burgeroorlog wat dreig, soos Julius Malema van die EFF gewaarsku het ‘dat diegene wat aan die randjie van oorlewing klou, sal kom vir almal wat het”.

Tribuo-kunsteberaad - Kunstenaars moet terugveg met hul kreatiwiteit NATi
Lara Foot, hoof van die Baxter-teater in Rondebosch, het oor die stand van teater op die Tribuo-kunsteberaad op Stellenbosch gepraat. Foto: Nardus Engelbrecht

Die energiekrisis knou infrastruktuur en werkloosheid, armoede en ongelykheid sorg vir min hoop, het hy vervolg.

Meer kunstenaars en projekte, asook groter begrotings, word deur die regering verskaf danksy die stimulusprojek. Dit kan egter nie volgehou word nie, meen Maqoma, weens die groot eise van die ekonomie en die ongelyke Suid-Afrikaanse samelewing. “Die oorlog in Oekraïne en ons problematiese verhouding met Rusland noop ons om realisties te wees en onsself voor te berei vir ’n moeiliker tyd vorentoe.

“Samelewings stort in duie as jy die ryk van die heilige, die ryk van tot voordeel van almal buite die politiek verloor. Ons moet die tendens omkeer dat die kunste die eerste is om te ly as ’n pandemie of ’n groot terugslag ons tref.

“Ek is ’n optimis van Soweto wat as kind die stof en stik aan traangas verduur het en steeds geglo het in die goeie in mense. Vandag in Soweto sien ek die jeug met geen ruimtes om te ontspan nie, geen stimulus, geen kuns nie – en as dit bestaan, verkeer dit onder geweldige druk.” 

Kuns ontbloot betekenis en kunstenaars bring betekenis deur dit wat hulle skep, vervolg hy.

“Dit is nou tyd om ons mag as kunstenaars te wys. Daar moet ’n algehele ommekeer wees, pragmatiese strukture moet gevestig word, en ons moet ons onverdeelde energie en aandag gee. Ons moet die waarheid bly vertel.”

Hy het gesê ons intellektuele benadering tot kultuur en die finansiering daarvan is uitgedien. 

“Ons moet strewe na onafhanklikheid – ekonomies, filosofies en kultureel. Ons moet ’n vennootskap met mekaar aangaan en ons kollektiewe krag besef, ons moet proaktief wees in ons omgang met die regering en ons moet die witskrif (vir die kunste) implementeer, sodat organisasies soos Tribuo en Tadaa net kan fokus op die behoeftes van kunstenaars en nie die implementering van beleid nie.

“Kreatiwiteit is ons wapen. Kreatiwiteit het ’n vyand nodig. Ons vyand is ons huidige regering van amper 30 jaar – hierdie vyand bedreig ons kreatiewe demokrasie. “Kreatiwiteit kan die regering uitdaag net soos ons dit gedoen het met die apartheid-regering. Ons denke en kollektiewe kreatiewe mag is ons mag wat nie uitgedoof kan word nie.”

Gespreksgroepe oor verskeie fasette van die bedryf soos onder meer opleiding, finansiering en vervaardiging het gevolg met ’n terugvoersessie.

Die beraad is Vrydagoggend geopen deur Anroux Marais, minister van kulturele sake en sport in die Wes-Kaap. Die beraad duur vandag voort.

Via Netwerk 24

Deel hierdie artikel
Deel op Facebook
Stuur 'n twiet
Pin die foto
WhatsApp
Stuur per e-pos

© 2025 NATi • Alle regte voorbehou.