Tribuo-kunsberaad: waarom kunstenaars doen wat hulle doen
Gesprekke soos die Tribuo-kunsteberaad vind plaas want dit kan nie anders nie. Elke dag is ’n rit in die Wilde Weste, ’n tuur oor ’n landskap waar kreatiewe oplossings bedink moet word. Kunstenaars met onstuitbare energie stu voort.

Verlede week hoor ek dat ’n ingenieur wat ek ken, van Zimbabwe af kom.

“Hoe gaan dit nou daar?” vra ek.
Hy trek sy skouers op: “It’s complicated.”
“Waar’s jou familie?” vra ek.
“Terug,” sê hy.
“Waarom?” kan ek nie anders om te vra nie.
“Waarom doen ons wat ons doen?” kry ek ’n teenvraag as ’n antwoord. “Because it’s home.”
Hoekom doen ons wat ons doen?

Hierdie vraag was in my agterkop toe ek korrespondensie oor die Tribuo-kunsteberaad in Stellenbosch ontvang. (Die Tribuo-fonds is in 2020 gestig omdat die pandemie en inperkings die kunsbedryf geknou het. As gevolg van korrupsie en wanbestuur, het kunstenaars nog groter skade gely.)

Verskeie privaat en bedryfsorganisasies is tydens die grendelstaat gestig om hulp te verleen aan kunstenaars en die bedryf te stabiliseer, waarvan Tribuo een was. Die Tribuo-kunsberaad het op Vrydag en Saterdag 2 en 3 Mei plaasgevind en is by Stias (Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie) aangebied. Die Tribuo-teaterfonds was die gasheer van die beraad. Dit is gesteun deur die Afrikaanse Trust vir Kuns, Kultuur en Erfenis.

Op die Vrydag het Cornelia Faasen van NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) bespreek hoe ’n groot uitdaging KI vir die kunstebedryf is en algaande groter sal word. Menslike kreatiwiteit gaan KI moet troef. Lara Foot van die Baxter-teater het gepraat oor hoe min teaters daar vir kunstenaars in die land is. Gregory Maqoma, choreograaf en danser, het ook gepraat. Hy het spesifiek finansiële uitdagings vir dansgroepe genoem.

Op die Saterdagoggend woon ek ’n paneelbespreking by. Direkteure van feeste dwarsoor die land praat oor die uitdagings wat die kunste in die gesig staar. Eers was dit Covid en inperkings, voortgaande korrupsie, wanbesteding van fondse en wanbestuur, en nou is dit beurtkrag. Oplaas kom dit daarop neer dat almal wat kaartjies moet koop, se besteebare inkomste verminder het.

Daar is nie geld nie.

“Waarom bied julle almal ooit nog feeste aan?” vra Kabous Meiring, gespreksleier, op ’n stadium tydens die gesprek.

“Want … dis oor die energie wat ons uit die kunste put, almal van ons,” sê Saartjie Botha. “Dis die rede waarom ons doen wat ons doen.”

Saartjie is in haar hoedanigheid as feesdirekteur van die Toyota US Woordfees saam met ander feesbestuurslede op die verhoog.

Saam met haar op die paneel is Monica Newton van die National Arts Festival, Michael Garbett (Vrystaat Kunstefees), Jana Hattingh (Suidoosterfees), Alexa Strachan (Momentum-beleggings Aarklop) en Hugo Theart van die KKNK. Kabous Meiring is die gespreksleier van die bespreking: Wat is die verantwoordelikheid van die feeste?

Die feesdirekteure bespreek om die beurt die uitdagings en die faktore wat in hulle onderskeie feeste se guns tel.

’n Universele tema is die realiteite van die ekonomie en die impak daarvan op al die feeste. Daar’s die huurgeld van venues. Daar is ’n poging om kunstenaars en helpers by feeste te betaal. Daar is ’n strewe na volhoubare kuns. Daar is oneindige, veelvlakkige kante van die gesprek.

Alexa Strachan wys daarop dat een van die vrae wat nou voor die Aardklop-fees gevra word, is: Sal die stedelinge uit Johannesburg, nadat hulle planne moes maak met kragopwekkers en sonpanele, geld hê vir brandstof en teaterkaartjies in Potchefstroom? Sy noem ook die belang van die feesterrein en dat mense wat kla oor die mense wat by die feesterrein basaar hou, eerder moet dankbaar wees vir elke kosstalletjie – dit is daardie ekonomie wat geld inbring en die ernstiger kunsstukke help finansier.

Michael Garbett noem hoe belangrik dit vir die Vrystaat Kunstefees is om ’n platform vir plaaslike talent te bied én om kunstenaars van dwarsoor die land na Bloemfontein te lok en daar te kan laat optree, juis omdat die Vrystaat Kunstefees se teatergangers nodig het om blootgestel te word aan ’n wye verskeidenheid kunste van dwarsoor die land. Hy praat gloeiend oor die aantal lojale feesgangers van Bloemfontein.

Jana Hattingh vertel hoe bevoorreg die Suidoosterfees is om die fees in ’n wonderlike teater soos die Kunstekaap te kan aanbied, hoe lekker hulle saam met die Stad Kaapstad werk, en hoe goed dit vanjaar met die fees se getalle gegaan het. Sy wys op ’n realiteit: Haar persoonlike rekenaar is by die fees uit haar kantoor gesteel.

Kabous Meiring sê dit is iets wat vir elke fees in gedagte gehou moet word, soos in die hele landsituasie: Misdaad is ’n alledaagse verskynsel en ’n werklikheid wat nooit verdwyn nie.

Monica Newton wys daarop dat die National Arts Festival dwarsdeur die jaar verskillende feeste aanbied. Sy dui ook aan dat die voordeel van die National Arts Festival is dat die hoofsaaklik Engelse feesinhoud beteken dat die feesgangers en die fees as baie inklusief ervaar word.

Hugo Theart praat van die Oudtshoorn-gemeenskap van die KKNK en van al die produksies wat uit die gemeenskap en vir die gemeenskap daar aangebied word, en dat mense steeds geneig is om te vra: Wat doen julle vir die gemeenskap? Hy nooi mense uit om te kom kyk wat alles vir die plaaslike omgewing gedoen word. Hy sê dat infrastruktuur ’n kopseer is en dat die venues telkens, elke jaar voor die fees, weer opgegradeer en feesgereed gekry moet word. Hy sê hy was gespanne oor vanjaar se fees: Sou die mense kom? Dis soos as jy ’n partytjie aanbied en nie weet wie gaan opdaag nie. Maar die getalle is terug na 2019 se getalle, sê hy, en hy is bly.

Saartjie Botha praat oor die realiteit van Stellenbosch, soos die gesukkel met parkeerplek (maar daar is ’n pendeldiens!), en sy praat ook van die wonderlike betrokkenes by die fees. Hulle mik altyd hoog. Hulle probeer elke jaar ’n fees beplan wat soveel moontlik kaartjies sal verkoop, werk sal skep en verrykende kuns sal aanbied. Maar dis duur – die venues word nie bloot deur die universiteit geskenk nie; dit kos geld om alles te huur. Sy opper ’n belangrike punt toe daar gevra word hoe dinge so geword het, waarom almal nou finansieel die sente omdraai. “Dinge word nie sommer net oornag soos wat dit is nie; dis nie die wegraping of so iets nie,” sê sy.

Dis duidelik uit wat sy sê dat hierdie feite universeel van toepassing is op al die feeste: Daar gebeur iets, soos ’n kunsteraad wat tot ’n einde kom. Korrupsie wat plaasvind. Kunstenaars wat swaarkry weens inperkings, of feesgetalle wat beperk word. Dan het dit ’n effek en dan is daar nog iets wat gebeur, of ’n bestuur wat iewers verander, of ’n ander agenda by iemand en … so baie dinge wat vantevore gebeur het. Mense dink soms besluite word sommer net vinnig geneem of gesprekke vind plaas sonder dat hulle besef hoe baie dinge dit voorafgegaan het.

Nadat die feesdirekteure se gesprek verby is, is daar teetyd en gesprekke met ander mense wat al feeste aangebied het.

Fiona van Kerwel praat met my oor die WOW-fees later vanjaar, en Ingrid Wolfaardt vertel van die Journey to Jazz-fees wat onlangs in Prins Albert aangebied is. Ingrid praat entoesiasties oor skoolkinders vanuit die gemeenskap van Prins Albert wat die eerste keer gevoel het hulle is ráákgesien toe hulle op ’n verhoog kon optree. Sy vertel van kinders wat op klippe kom sit en kyk het hoe daar musiek gemaak word. Hoe die hele dorp betrokke was.

“But then came the loadshedding …” sê sy, en onderdruk ’n sug. “We lost lots of money due to payment for generators.”

Sy helder egter vinnig weer op.

“But we are already planning next year’s festival!”

Na die teetyd is daar terugvoer van verskeie woordvoerders van die paneelbesprekings wat die oggend plaasgevind het. Duidelik was hier dinkskrums oor allerlei onderwerpe wat die kunstebedryf raak: wetgewing, vasgestelde tariewe vir kunstenaars, wat prakties gedoen kan word om mense teaterproduksies en feeste volhoubaar te laat bywoon.

Jefferson J Dirks-Korkee praat oor hoe mense kan welkom voel op feesterreine, oor wat gedoen kan word as mense nie geld het om vir ’n teaterproduksie te betaal nie. Sê nou maar … Sê nou maar kinders wat nie geld kan betaal nie, kan rommel optel en dit as betaling verskaf, dan kan die teater dalk opruiming en herwinning binne die gemeenskap aanwend as ’n vorm van vergoeding … Daar moet kreatiewe maniere bedink word om die gehore by die feeste te kry. Van alle ouderdomme, van alle agtergronde.

Jefferson sê dat kunstenaars nie die regering nodig het nie. Dis nie kunstenaars se primêre rol om hulle verantwoordelik te hou nie en kunstenaars is in elk geval sekondêr besig om die regering verantwoordelik te hou, sê hy met ’n vonkel in die oog, uit hoofde van die inhoud van hulle toneelstukke.

Soveel kreatiewe mense onder een dak bymekaar. Mense wat van mekaar kan verskil, maar passievol eenders voel oor die kunste. Mense wat almal soveel daarvoor omgee, wat almal soveel kuns in hul bloed het dat hulle eintlik familie van mekaar kan wees.

Ek ry weg na my eie huis toe en dink na oor die belang van hierdie beraad.

Elke dag is ’n rit in die Wilde Weste, ’n tuur oor ’n landskap waar kreatiewe oplossings bedink moet word. Kunstenaars met onstuitbare energie stu voort. Gesprekke soos die Tribuo-kunsteberaad vind plaas want dit kan nie anders nie. 

Terwyl ek my motor in die oprit parkeer, onthou ek wat die man van Zimbabwe vroeër die week gesê het.

Hoekom doen kunstenaars wat hulle doen – in enige land, maar ook hier in Suid-Afrika? Die kunstenaarsgesprekke en die beraam van planne duur voort, want dit kan nie anders nie. Dis huis.

Deel hierdie artikel
Deel op Facebook
Stuur 'n twiet
Pin die foto
WhatsApp
Stuur per e-pos

Ander artikels

© 2024 NATi • Alle regte voorbehou.