Ons lewe in ’n tyd waar daar geworstel word oor wie wie se land gesteel het (of wil steel) en ernstige bespiegeling oor wie die regte op Afrikaans behou en wie vir wie “toestemming” gee om Afrikaans te praat, en wie vertel wie se stories. Emosies loop hoog, want almal is iewers aan die woel om die raaisel op te los of die vuur verder te stook.
Dan woon jy die Suidoosterfees by en sien ’n aantal eenpersoon- en klein tweepersoonproduksies geskep deur jong teatermakers en kom tot die slotsom dat die toekoms van teater in ons/julle/hulle Suid-Afrika ten minste in goeie hande is. En, Afrikaans, soos gepraat, geskryf en geïnterpreteer deur alle rassegroepe is lewend, met kop omhoog op ons verhoë. Talle voorbeelde van jeugteater, onder meer bruin jeugteater, is onlangs gesien op die Suidoosterfees waar die Nasionale Afrikaanse Teater-Initiatief (NATi) ’n groot applous verdien omdat hulle die jonges die geleentheid te gee om hul werk op die planke te bring.
Van tienerteater (die finale ronde van die departement van kuns en kultuur se dramakompetisie vir skole) tot toneelstukke soos Kantel, Klippies van die grond, Rooilug, Dieselle, Sondag en Bossiekop, hanteer met kragtige stemme vraagstukke oor bruin identiteit, seksualiteit, die moderne samelewing en grondbesit.
In Kantel word die stryd om grondbesit met sensitiwiteit behandel deur die dramaturg Du Toit Albertze (ook die regisseur). Hier vervloei die storie van die bruin Bybie wat op die plaas agterbly en haar niggie Belinda, wat stad toe getrek het, met dié van die wit boer André.
In Bossiekop wys die jongelinge tot watter mate die kinkels in jou hare jou lewe as bruin meisie in hierdie land bepaal. Goeie konsep, maar hierdie stuk het nog werk nodig; hoewel daar snaakse oomblikke is en die geselskap hul tonge stewig in hul kieste het, hamer hulle die gehoor met die één konsep van “kroes” hare oor die kop.
In Dieselle is die klem op die bruin seunskind wat pa-loos op die Kaapse Vlakte grootword het en dikwels pa-figure vind in bendeleiers. Dit speel af in ’n tronksel en twee misdadigers se eie stories word vertel. Die teks moet verder ontwikkel, maar die vrae is belangrik: waar pas die jong mens wat nie net 100% misdadiger is nie, maar ook ’n mens met hoop en drome, by die samelewing in? Is ’n lewe van misdaad op die Kaapse Vlakte al waarborg vir ’n inkomste en ’n sin vir “behoort”, gegewe die werkloosheidsyfer?
Sondag is ’n eenvrouvertoning wat handel oor die worsteling van ’n wit dramastudent met ’n streng Calvinistiese, konserwatiewe opvoeding en wat ’n meer onkonvensionele, moderne lewe wil lei.
Rooilug is ongetwyfeld een van die hoogtepunte van die fees. Jefferson J Dirks-Korkee is iemand om fyn dop te hou. Hy is ’n puik storieverteller en ’n goeie akteur. Hierdie kragtoer van ’n produksie wat handel oor hoe gesinsgeweld kinders affekteer, vanuit die oogpunt van die kind, is ’n absolute wenner wat moet toer na al wat ’n saal in die land is.
Hierdie jong, talentvolle akteurs, skrywers en regisseurs skryf en speel met geesdrif en insig. Daar is ’n deurlopende draad in die stukke wat vra dat ons noukeurig moet kyk en aandagtig moet luister na wat hulle regtig op hul harte het. Hulle sê nie hulle het al die antwoorde nie, maar hulle het definitiewe vrae en insiggewende perspektiewe. En dit is uiteraard kenmerkend van goeie teater; om nie voor te skryf nie, maar om insigte uit te brei en om spieëls op te hou. En, hoewel die graad van sukses van die produksies verskil (mentors kan miskien ’n groot rol speel in die verdere ontwikkeling daarvan) is hierdie toneelstukke dapper, uitgesproke teater waarop ons trots kan wees.
Via Netwerk24