‘Huishou’ se rolverdeling ‘uit die hemel’

Koebaai Pippa, hallo Dirkie. Dit is hoe Nadia Valvekens, wat 13 jaar lank Pippa in die kykNET-sepie Binnelanders gespeel het, verwelkom word nadat kenners, leke, resensente en verskillende gehore die verhoogstuk Huishou gesien het. Dié duo-toneelstuk is vanjaar op die Vrystaat Kunstefees.

So skitterend was Valvekens en Cintaine Schutte (onlangs in die kykNET-dramareeks Fynskrif) se spel dat albei as beste aktrise op Aardklop benoem is en tesame as beste ensemble vir ’n Fiësta. Valvekens het die Aardklopprys ontvang.

‘Huishou’ se rolverdeling ‘uit die hemel’ NATi
Nadia Valvekens (links) en Cintaine Schutte as Dirkie en Hester in die drama Huishou. Foto: Verskaf deur Barco Greeff

Huishou gaan oor twee wit vroue wat ’n swart kind wil aanneem. Dirkie is ’n dosent in sosiologie en dryf die aannemingsproses terwyl haar jonger lewensmaat, Hester, ’n loskop-wandelaar is. Hul verhouding en liefde word op die spel geplaas in ’n drama oor mense wat verby mekaar praat en oor die soeke na die “ek” in die “ons”.

So het Ilza Roggeband op LitNet oor Huishou geskryf: 

“Die gode wat by die keuse van aktrises vir dié rolverdeling betrokke was, was in ’n baie goeie bui. Dit is ’n rolverdeling uit die hemel en moeilik om te dink dat enige ander twee aktrises die rolle met soveel oortuiging sou kon speel. 

“Op die verhoog is hulle soos twee kampioentennisspelers wat hou vir hou saam speel en nooit terugdeins vir die ander een nie; waagartieste wat die ander een nooit sal laat val nie. Dit was ook duidelik dat hierdie stuk ingeoefen is, en selfs met die eerste vertoning was daar nie ’n woord, ligdompeling of asemhaling wat nie perfek was nie. Net ’n regisseur wat weet wat hy doen, kan dít regkry.

Huishou is baie meer as net ’n stuk oor twee vroue in ’n gekompliseerde huwelik en hul plan om ’n kind aan te neem. Dit is ’n stuk oor verhoudings, hoe jou verlede jou beïnvloed en ja, ook oor hoe hierdie land elkeen van ons in ’n rigting stuur.

“Die twee spelers, met Nico Scheepers se regiehand duidelik te bespeur, het die gehoor stíl gespeel; dit is ’n stuk wat hopelik nog lank en ver gaan reis.”

Marina Griebenow skryf in haar resensie “die gehoor sou aanvanklik meen die drama handel oor twee vroue wat getroud is en ’n swart kind wil aanneem, maar “namate die drama vorder, verander jou sienswyse egter totdat jy besef die drama kyk na die stresvolle uitwerking wat aanneming op ’n verhouding kan hê. Dit geld gay- en straight verhoudings.

“ ’n Groot vreugde was die gehoor wat algeheel ingesleep is deur gebeure op die verhoog. Hulle is saam met elke karakter deur elke krisis. Met die ongelooflik realistiese spel van Valvekens en Schutte kon ’n mens nie anders as om betrokke te raak nie.”

Die bekroonde Philip Rademeyer (Klippe wat val, Wild) het die teks geskryf. 

* 1 Julie om 15:00, 2 Julie om 20:00, 3 Julie om 14:00, 4 Julie om 10:00 in die kykNET-Scaena. R130 by Computicket.

Deel hierdie artikel
Deel op Facebook
Stuur 'n twiet
Pin die foto
WhatsApp
Stuur per e-pos

© 2024 NATi • Alle regte voorbehou.