Jak de Priester is bekend as musikant, maar hy is ook ʼn skrywer en digter van formaat. Hy debuteer met die digbundel Heuning in die mond, toe volg Agter palissades. Daarna publiseer het die koffietafelboem Broodwaarin lirieke van sy musiekalbums, bladmusiek, stories, gedigte, animasie en foto’s opgeneem is. Die lirieke van sy liedjies is pure poësie, soos hierdie strofe uit Afrika: En as ek verlang na my moeder se taal / wat by feeste en kunste weergalm, / dan voel ek my land, ongerep in my hart / en dit groei in my trots en kalm.
Woorde en skryf kom vir hom natuurlik en hy skryf al sy lirieke self. Hy skryf ook vanaf 2011 tot 2015 die rubriek, Pa se Stem, vir die tydskrif Baba & Kleuter.
Min mense weet dat Jak eintlik ʼn onderwyser is wat Duits en Frans kan onderrig. Hy het wel in Londen, Engeland vir twee jaar onderwys gegee. In 2002 wen hy Crescendo en dit sorg vir ʼn deurbraak in die musiekbedryf.
Sy debuutalbum Sally Williams Nougat is opgevolg deur Brooklyn Poet, Groen Mamba, Die liefde los ʼn spoor en vele ander. Hy het in 2020 sy Album 10 uitgereik. Hy skryf ook die temalied van Binnelanders, 10 uit 10 en Reis na gister. Jak is ook ʼn bekende gesig en aanbieder op televisie.
Dit is nie net woorde en musiek wat in sy bloed is nie, hy tel ook graag die kwas op om te skilder.
Saam met Jak gaan die bekende skrywer, bibi Slippers optree. Sy het in 2017 die literêre wêreld behoorlik laat regopsit met haar digbundel, fotostaatmasjien, wat bekroon is met die Eugene Marais-prys, die UJ-debuutprys en die Elisabeth Eybers-prys. Bibi is kunstig én goed met woorde. Sy is ʼn digter en joernalis. Sy het in 2007 terselfdertyd twee BA-grade by Tukkies behaal: een in Beeldende Kuns en nog een in Tale en in 2015 ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy was voorheen ’n inhoudsbestuurder by LitNet en artikelredakteur by die tydskrifte MyTyd en VISI. Haar gedigte en stories is opgeneem in verskeie versamelbundels, onder andere Nuwe Stemme 4 en Nuwe Stories 1.
Met twee sulke talentvolle woordkunstenaars beloof hierdie musiekteater iets uit die boonste rakke te wees.
Hierdie In jou huis –Musiekteater word huis van dr. Sarita Retief aangebied. Sy is ʼn geliefde onkoloog en daarom is dit nie vreemd dat die donasies wat deur gaste geskenk gaan word, vir Nelspruit Hospice gaan nie.
Die konsert gaan direk deur 100.5FM uitgesaai word en luisteraars kan via Whatsapp saamgesels. Skakel gerus in vir ʼn genotvolle luisterervaring.
Hierdie konsert is moontlik gemaak deur die ondersteuning van NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief.