Nuwe SA mis kroonjuweel op Kaapstad Opera-program

Via Netwerk24

Kaapstad Opera het, ondanks geldelike probleme, ’n jaarprogram bekend gestel wat twee vollengte operas, ’n oorsese toer en korter optredes, asook ’n “kroonjuweel” insluit. 

Dié “kroonjuweel”, wat eersdaags debuteer, is ’n nuwe Suid-Afrikaanse mis waarvoor Antjie Krog die teks geskryf het en Antoni Schonken die musiek. Die nuwe verbond – ’n Misorde vir die universum sal die eerste keer op die US Woordfees gehoor word in ’n drieledige produksie wat ook Guido Haazen se Missa Luba en Misa Criolla van Ariel Ramírez insluit. Oorkoepelend word dit aangebied as MI(SA).

Marthinus Basson het as regisseur rites en liturgie in die Die nuwe verbond ingeweef om ’n grensverskuiwende Suid-Afrikaanse klankwêreld te skep. Die werk is grotendeels in Afrikaans, maar sluit ook Latyn, Grieks, Engels, Xhosa en Khoi-San in. Krog sê die mis poog om verligting te bied vir die leed wat mense mekaar aandoen en die skade wat hulle die planeet berokken. 

Die soliste wat saam met die Kaapstadse operakoor optree, is Amanda Strydom, Brittany Smith, Ernestine Stuurman, Makudupanyane Senaoana en Ané Pretorius. Erik Dippenaar is voor die klawesimbel en Pieter Bezuidenhout sal van die dirigeerpodium seker maak die produksie vloei. 

MI(SA) word op 1 Maart om 16:30 en 20:30, 2 Maart om 14:30 en 3 Maart om 19:30 in die Adam Small-ouditorium van die Universiteit Stellenbosch aangebied. NATi, die US Woordfees en die Suidoosterfees maak dit moontlik.

Die operas in Kaapstad Opera se jaarprogram is twee grootse liefdesverhale, I Capuleti e i Montecchi van Bellini en Gluck se Orphée et Eurydice

I Capuleti e i Montecchi is ’n uitbeelding van een van die vroegste weergawes van Romeo en Juliet se tragiese liefde. Bellini het die hoofrolle vir ’n sopraan en mezzosopraan (pleks van ’n tenoor) geskryf waarvan hul sensuele duette in tipiese gesponne Bellini-melodieë hoogtepunte in dié bel canto-opera is. 

Kaapstad Opera voer die produksie in samewerking met die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool op. Jeremy Silver, die nuwe direkteur van die operaskool, is die dirigent, Steven Stead die regisseur en Michael Mitchell en Kobus Rossouw die stelontwerpers. 

I Capuleti e i Montecchi sal op 15, 17 en 18 Mei in die Kunstekaap op die planke wees. 

Orphée et Eurydice is ’n dramatisering van Orfeus wat sy vrou, Euridice, in die onderwêreld gaan soek, met die geliefde aria “J’ai perdu mon Eurydice” die hoogtepunt. 

Die Britse dirigent en Kaapstad Opera se mede-musiekdirekteur, Tim Murray, sal dié nuwe produksie deur Matthew Wild uit die orkesbak lei. Operaskoolsoliste en die Kaapstadse operakoor is die sangers. 

Die produksie is op 3, 5 en 7 September in die Baxter-teater op die planke. 

Kaapstad Opera se oorsese aanbieding is African Passion, ’n hervertelling van die Christus-passie met ’n eklektiese mengsel van klassieke musiek, Afrika-musiek en gospel. 

Dan is daar ook nog die Suid-Afrikaanse première van die bekende Puccini-opera La bohème wat vir vroeg in 2020 in Kaapstad geskeduleer is. Dié voorstelling deur Wild word word in samewerking met die Konzert Theater in Bern, Switserland, aangebied, waar die opera in 2018 opgevoer is.

Vóór dié program kan die operakoor en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op 1 en 2 Maart in die jaarlikse RMB Starlight Classics by Vergelegen gehoor word.

Kaapstad Opera het ook die inisiatief geneem om ’n spesiale Barokkonsert met die Amerikaanse kontratenoor Lawrence Zazzo aan te bied. Saam met hom sal die Suid-Afrikaanse soprane Lynelle Kenned en Brittany Smith en die Camerata Tinta Barocca uittreksels uit die Handel-operas OrlandoRodelindaGiulio Cesare en Alcina uitvoer.

Deel hierdie artikel
Deel op Facebook
Stuur 'n twiet
Pin die foto
WhatsApp
Stuur per e-pos

© 2025 NATi • Alle regte voorbehou.